Geskryf deur: Pieter Oosthuizen – Voorsitter
Die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) moedig alle Afrikaners aan om eendragtig
hul misnoë te toon teen die geweldige aanslag op ons boere op plase, landbouhoewes en in dorpe
deur die inisiatief van AfriForum op Vrydag 16 Oktober 2020 op Senekal te steun. Die aanslag op ons boeregemeenskap wat steier onder die vlaag van plaasaanvalle, moord, veediefstal en grondroof, is dieselfde aanslag op moedertaal onderrig in ons skole en universiteite.
Dis ook ‘n aanslag op ons taal Afrikaans.
Ons moet ons nie laat bangpraat nie. Die tyd het aangebreek om ons stem dik te maak as één volk en ons verskille opsy te skuif ter wille van ons menswaardigheid, voedselsekerheid, die lewens van ons bejaardes en kwesbares op plase en om die toekoms van ons jongmense, ons taal en ons kultuur te beskerm. In dieselfde asem moet ons egter ook vir mekaar kan sê dat geweld nooit die antwoord behoort te wees nie en dat sover ons kan en dit moontlik is, ons wyser moet wees as die onkundiges wat ons uittart en uitdaag tot konflik.
Genoeg is genoeg!
Jaap Marais, inisieerder van die GHA, het dikwels gesê dat dit nie die aanslag van buite is wat ‘n volk vernietig nie, maar die verraad van binne. Dit was die verraad van die NP en sy meelopers in 1994 wat die mag op ‘n skinkbord aan die ANC-belhamels oorhandig het, wat ons tans bywoners in ons land maak. Die land wat ons met bloed en sweet opgebou het… ons geboorte grond.