Geskryf deur Dr Müller Pretorius

Op 6 April 1652 het Jan van Riebeeck aan die suidpunt van Afrika geland om namens ‘n Nederlandse handelsorganisasie, die V.O.C. (Vereenigde Oost-Indisch Compagnie) ‘n verversingspos te stig, vir hulle handelsvlote op pad Oos-Indië toe, om handelsware daar te gaan haal om in Europa te verkoop. Hierdie verversingspos was die begin van ‘n Nederlandse kolonie wat in 1806 oorgegaan het in ‘n Britse kolonie. Maar net 2 jaar na die begin van die verversingspos het Jan van Riebeeck op 6 April 1654 die volgende gelofte gedoen: “Waar dit vandag die tweede verjaardag is van die dag waarop ons deur die Here gelei met die skepe Drommedaris, Reyger en Goede Hoop hier ter plaatse behoue aangeland het om hierdie vesting en kolonie na die bevel van ons here en meesters [ Here XVII ] te bou en te bestendig, en opgelet het dat God die Here alle sake tot vandag toe met vele seëninge voorspoedig en na wense laat verloop en laat slaag het, daarom het ons besluit, en ook vir die eerste keer begin om hierdie dag, die 6de April, tot eer van God met danksegging te vier en vir altyd tot ‘n vasblywende dank-en biddag in te stel, sodat daarby die weldade van die Here wat aan ons bewys is, deur ons nakomelinge nooit vergeet mag word nie, maar altyd tot eer van God in gedagtenis en herinnering gehou sal word.”

As mens saam met hierdie gelofte van 1654 daaraan dink dat die V.O.C., ‘n handels maatskappy, ‘n voorgeskrewe gebed aan Van Riebeeck gegee het wat hy gebid het nadat hy in Tafelbaai geland het in 1652, waarin onder andere gevra word dat: “Uwe gereformeerde Christelijcke Lere metter tijt mochte voortgeplant ende verbreijt worden” dan besef mens maar net dat hierdie “stigting” van ‘n verversingspos deur ‘n handelsmaatskappy ook ‘n besliste Christelike karakter gedra het,  waar toe ook later, hier aan die suidpunt van Afrika, die Afrikanervolk ontstaan het en dat dit van die begin af ‘n Christelike en godsdienstige en wel ‘n Protestantse volk sou wees. Toe hierdie volk later in die 1830’s begin dink het om onder die Britse bewind aan die Kaap uit te kom, was dit nie ‘n verrassing dat hulle besluit het om ‘n protestantse Christelike volk te gaan stig nie.

Maar in hulle wegtrek na die noorde het hulle te doene gekry met ‘n volk wat uit die noorde van Afrika suidwaarts getrek het en hulle in die 18 de eeu kom vestig het in die gebied van Natal en Transvaal naamlik die Zoeloes wat ook verwant is aan die Xhosas met wie die grensboere al vroeër te doene gekry het in die omgewing van die Keirivier in die Oos-Kaap. Die Zoeloes was ‘n strydlustige volk onder wie die sendelinge wel sendingwerk gedoen het sonder veel sukses. Die Voortrekkers soos wat die Afrikaners wat getrek het uit die Kaapkolonie, bekend gestaan het, was nie van plan om deur oorlog vir hulself grondgebied te verower nie maar wou grond bekom deur ruilhandel en vreedsame onderhandelings, het met Dingane, die koning van die Zoeloes, samesprekings gehou en inderdaad ‘n groot stuk grond in Natal vir hulle bekom. Dingane het egter op verraderlike wyse vir Piet Retief en sy geselskap, laat vermoor net buite sy hoofstat, Umkungunhlovo op Hlomo Amaboeta (Moordkoppie) op 6 Februarie 1838.

Die Voortrekkers het dadelik ‘n strafkommando onder Andries Pretorius gestuur om Dingane te straf vir hierdie wandaad. Omdat hulle besef het dat hulle kommando van minder as 500 man nie teen die Zoeloe impies van meer as 15,000 goed opgeleide krygers, bestand sou wees nie, het Charl Celliers op aandrang van Andries Pretorius ‘n gelofte aan God opgestel wat so gelui het: “Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om ‘n gelofte aan Hom te doen, dat, as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons dié dag en datum elke jaar as ‘n dankdag soos ‘n Sabbat sal deurbring, en dat ons ‘n huis tot sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle saam met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir ons opkomende geslagte. Want die eer van sy Naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van die oorwinning aan Hom te gee.”

En was die slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 nie ‘n wonderwerk van God nie? Daarom is dit nog steeds, vir ons, as dankbare nageslag van die Voortrekkers, ‘n plig om die Gelofte na te kom, deur elke jaar op 16 Desember bymekaar te kom en die dag, as dankdag te vier. Dit is verblydend dat daar deur die jare sulke feeste op baie plekke in Suid-Afrika en selfs in die buiteland gevier word en deur baie mense ( bymekaar getel ) word die Gelofte dan so nagekom. Dit is veral bemoedigend dat die Geloftefees by die Voortrekkermonument die afgelope dekade deur al meer mense bygewoon word. Die Voortrekkermonument is veral die gedenkteken wat ons as ‘n Boere-Afrikaner volk herinner daaraan dat die HERE God, wonderwerke onder ons gedoen het.

In Jos. 3 en 4 lees ons die verhaal van hoedat God die volk Israel, droogvoets deur die Jordaanrivier, wat in vloed was, laat trek het, deurdat Hy, met ‘n magsdaad die water van die rivier laat opdam het. Toe het die HERE aan Josua opdrag gegee dat met klippe, geneem uit die bodem van die Jordaanrivier, ‘n gedenkteken opgerig moet word  om die volk aan God se wonderwerke te herinner. dat die HERE hulle deur ‘n wonderwerk deur die Jordaan laat trek het. (vgl. Eks. 14 en Jos. 4:21-24).Uit voorgaande is dit duidelik dat die drie-enige God ons hier  in Suid-Afrika as ‘n protestants Christelike volk laat ontstaan en ontwikkel het, dat ons besig is om ons te verootmoedig en om ons geloftes aan die HERE, te herdenk en aan Hom te betaal.