Die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans

Welkom by die Genootskap

Geagte Vriend

Die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) is op 29 Januarie 1994 gestig om Afrikaans as ’n amptelike taal van Suid-Afrika te handhaaf deur middel van opvoeding, skoolonderrig en kompetisies, asook deur die aanwakker en bevordering van ’n liefde vir ons kosbare taal, Afrikaans, wat op 8 Mei 1925 ’n amptelike taal van Suid-Afrika geword het.

Derhalwe:

      1. Ons organiseer poësiekompetisies en publiseer jaarliks die beste gedigte wat ingeskryf word in ’n boek getiteld Stemme uit die Suiderland. Op 31 Januarie 2026 sal ons ons twintigste bloemlesing tydens ’n prestigeryke geleentheid in Pretoria bekendstel.
      2. Tydens jeugkampe, soos die Majuba-kamp op 27 Februarie 2026, leer ons jongmense om lief te wees vir hul geskiedenis en hul pragtige taal, en om dit oral waar hulle gaan, te bevorder.
      3. Ons bevorder ook Afrikaans deur taalvegters soos Eugène Marais, S.J. du Toit en C.J. Langenhoven te vereer, wat vir die voortbestaan van Afrikaans gestry het. Daarbenewens vereer ons S. le Roux Marais, wat gedigte van bekende digters soos AG Visser, NP van Wyk Louw, Totius, en ander in Afrikaanse Kunsliedere gekomponeer het. Konserte waarin hierdie werke uitgevoer word, vind plaas by die AfriForum Teater op 1 Februarie 2026 en by die Pierneef Teater op 22 Februarie 2026, waar vooraanstaande kunstenaars dit uitvoer.
      4. Ons beywer ons vir die behoud van bestaande Afrikaanse skole tot voordeel van leerders en hul opvoeding. Dit is bewys dat leerders akademies beter presteer wanneer hulle in hul moedertaal onderrig word. In dié verband het ons die boeke Afrikaner se eis vir ’n onafhanklike Onderwysowerheid in 2010 en Pasop vir die Bela-wetgewing in 2022 gepubliseer.
      5. Ons moedig ook getroude jong Afrikaanse paartjies aan om minstens vier kinders te hê om ons getalle te handhaaf.

Die GHA is nie teen enige ander taal gekant nie, maar poog om ons geliefde taal deur kultuur en onderwys te bevorder.

André Alkema
Uitvoerende voorsitter van die GHA
0825700184
0812505060
gha@afrikaans.org.za
andrealkema@gmail.com

Handhawers

Deelname beteken ook dat die jeug verantwoordelikheid aanvaar om die waarde van Afrikaans vir die toekoms te bevorder.

Dit is ’n lewenslange belegging in die voortbestaan van ons Afrikaanse taal.

Stemme uit die Suiderland Digbundels

Stemme uit die Suiderland – Ons eie Bloemlesing is meer as net ’n versameling van gedigte; dit is ’n stem van ’n volk, ’n herinnering aan waar ons vandaan kom en ’n bevestiging van waarheen ons op pad is.

Afrikaanse Kunsliedere

S le Roux Marais

HERLEEF IN

Agtien voortreflike kunstenaars wat opgeneem is met Kunsliedere.

Boere-Afrikaner BevolkingsAanwas

Bevolkingsaanwas alleen bepaal nie die toekoms van ’n kultuur nie, maar kinders bly die hart van elke gemeenskap. Deur liefdevolle families, sterk opvoeding en ’n lewende taal kan ’n kultuur oor geslagte heen bly voortbestaan.

AksieBaba kan dus gesien word as ’n simboliese herinnering aan die waarde van kinders en families. Wanneer ’n gemeenskap in sy jongste lede belê, bou dit nie net vir vandag nie, maar vir dekades en eeue wat kom.

Amateurtoneel

Amateurtoneel speel ’n baie belangrike rol in die behoud, ontwikkeling en bevordering van Afrikaans. Vir my gaan dit nie net oor mense wat op ’n verhoog staan en toneelspeel nie; dit gaan oor gemeenskappe wat saamkom, stories vertel en ’n taal lewendig hou. Wanneer mense deelneem aan amateurtoneel, gebruik hulle Afrikaans op ’n kreatiewe en betekenisvolle manier. Dit maak dat die taal nie net ’n kommunikasiemiddel bly nie, maar ook ’n draer van kultuur, emosie en identiteit.

Elke volk het sy eie verhale, humor en manier van dink. Wanneer toneelstukke in Afrikaans geskryf en opgevoer word, word hierdie stories lewendig gehou.