Taalstryd
Manifes van die GHA
Aan die Afrikaners wat jonk in jare en jonk in gees is, hulle wat by die huidige uitdaging van hulle volk nie beangs en deemoedig is nie, maar vervul is met geloof aan sy bestemming en met verwagting om deur toewyding en stryd geskiedenis te maak: Die Afrikaanse taal het die naam van Afrika as sy wortel. Dit is die taal wat uit die bodem van Suid-Afrika verrys het saam met die nuwe volk, wie se naam ook aan Afrika verbind is.
Afrikaans en die Afrikanervolk is so inheems aan Afrika soos die springbok en die hartbees, soos die tinktinkie en die tarentaal. Lord Balfour, ’n eertydse Britse Minister van Buitelandse Sake het jare gelede gesê: “In South Africa a White nation has established itself on a Black continent, and that has never before presented itself in the history of mankind.” Hierdie harde historiese feit is tans nog net so waar en dit sal nie verander word deur wisselende politieke getye nie. Dit is hierdie volk na wie Lord Balfour verwys in wie se taal visse en riviere en berge en bome, en voëls en diere van Suid-Afrika onveranderlik genoem is. Die kabeljou, steenbras, dageraad en snoek; die Oranje, Liesbeek, Vaal- en Blyderivier; die Drakensberg, Swartberg, Magaliesberg en Kransberg; die rooi-ivoor, witels, raasblaar, karee en hardekool; die bokmakierie, korhaan, loerie, hamerkop en fiskaal; die bontbok, blouwildebees, erdvark en meerkat.
En die land dra die stempel van Afrikaans deur die name van plase wat deur Afrikaners aan die wildernis ontworstel en tot die voedsel mandjie van die land ontwikkel is: Vergelegen, Mooimeisiesfontein, Nietverdiend, Geluksvlei, Donkerpoort en Kinderdam. En daarna die dorpe en stede wat deur Afrikaners gestig is en uit vlaktes en leë valleie verrys het: Bloemfontein, Pietermaritzburg, Pretoria, Johannesburg, Stellenbosch, Paarl, Kroonstad, Vryheid, Potchefstroom, Winburg, Dordrecht, Oudshoorn, Vereeniging, De Aar en Boksburg. Die Afrikaanse taal het sy stempel onuitwisbaar afgedruk op die land en wat in hom is.
Daarnaas is dit die taal waarin die stryd gevoer is om dié land vry te maak van vreemde oorheersing. Dit was die taal van Magersfontein en Tweebosch en Dalmanutha teen die Britse aggressie van 1899 – 1902. Dit was die taal van die vegtende minderheid by die Vredeskonferensie te Vereeniging in Mei 1902. Dit was ook die taal waarin genl. JBM Hertzog die volk se selfrespek opgeroep en na 1902 die politieke ontwikkeling teen Britse onderdrukking gelei het. Dit is die taal waarin die vryheidstryd gevoer is tot Republiekwording in 1961. Dit is die taal waarin die grondslae deur Afrikaners gelê is vir die ekonomiese en militêre ontwikkeling van Suid-Afrika – Yskor, Foskor, Sasol, Krygkor, die Raad op Atoomkrag. In sy afgesonderdheid en teen die herhaalde aanslae om hom te onderdruk, het Afrikaans gegroei tot ’n taal waarin literatuur geskrywe is wat naas dié van ouer volke kan staan – prestasies wat deur vyande onmoontlik geag was.
Wat die Afrikanervolk verrig en vermag het, het hy grotendeels gedoen sonder nie net hulp van buite nie, maar ook téén die samespanning van vyande binne en buite Suid-Afrika. Hy het nie soos ander in Suid-Afrika, die kulturele en politieke rugsteun van die honderde-miljoene van die Engelstalige wêreld gehad nie, ook nie, soos nog andere, die morele en sentimentelebystand van Afrikastate nie; en ook nie, soos andere, die samewerking van finansiële imperialiste en Kommunistiese ondermyners nie. Dié wat, soos tans, in Suid-Afrika die Afrikanervolk wil verneder deur hom in die beskuldigdebank te plaas en sy taal van onderdrukking wil bestempel, moet hulleself in hulle eie naam op die skaal plaas teen die Afrikanervolk, en nie in naam van honderde miljoene Engelssprekendes van ander lande nie, en nie in naam van honderde-miljoene van Swart Afrika nie.
Die Afrikanervolk het nie nodig om hom te beroem op wat hy in Suid-Afrika verteenwoordig nie, maar hy moet opstaan wanneer hy met berekendheid belaster en beledig word as ’n volk wat getoë sou wees in onreg, wat nie agting van ander waardig sou wees nie, en wie se taal daarom geminag kan word. Vir dié wat hulle hieraan vergryp, moet sekere dinge weer in perspektief gestel word. AFRIKAANS is nie ’n taal waarin ander tale onderdruk is, soos Hollands deur Engels onderdruk is in die dae van Britse bewind in die Kaapkolonie nie. AFRIKAANS is nie die taal waarin afskuwelike grypsug na goud en diamante gevoer en aangedurf is tot wapengeweld teen die Boererepublieke en tot die “methods of barbarism” waarmee volksmoord beoefen is op Afrikanervroue en -kinders in konsentrasiekampe nie. AFRIKAANS is nie die taal waarin verraad gepleeg is teen Engelse van Zambië en Zimbabwe nie. AFRIKAANS is nie die taal wat eiegeregtig en teen alle redelikheid opgedwing is as die enigste amptelike taal van Namibië nie. AFRIKAANS is nie die indringertaal van die finansiële en politieke imperialiste nie, wat mense beskou as eenhede van produksie en verbruik en ’n vaderland as ’n terrein vir uitbuiting nie. AFRIKAANS is nie die taal waarin ander volke beswadder en verneder is soos die Britse historikus JA Froude in die agtientagtiger jare geskryf het: “We (the English) constituted ourselves the champion of the coloured races against them (the Boers), as if they were oppressors and robbers… The Boers had been so systematically abused and misrepresented that the English scarcely regarded them as human beings to whom they owed any moral consideration.” In die negentienvyftiger jare het mnr Athur Barlow, ’n Engelssprekende Volksraadslid, ooreenstemmend geskryf: “I get the impression of the same lie, the same attacks on the Afrikaner and his government, the same villainy that marked the years before the Anglo-Boer war in our country.”
Ondanks hierdie herhaalde geestelike geweld teen die Afrikanervolk, kon hy nie vervreem word van sy besef van geroepenheid as ’n volk wat sy Christelike godsdiens deur die kanaal van Calvinisme ontvang het nie – die Calvinisme waarvan CJ Langenhoven geskryf het: “Whatever may be urged against the theological speculations of Calvin, the creed he taught makes the men who go through the fire and the mire, undaunted by the one, undefiled by the other.” Sy taal is nie die opslagplant wat gister verskyn het en môre sal verdwyn nie. Dié taal het moeisaam sy weg gevind tussen twee groot Europese tale: Hollands en Engels. Eers na hardestryd het hy teen Hollands gewen en homself gevestig as die enigste Wes-Europese taal wat buite Europa ontstaan het. Omdat dit die uiterlike simbool van die Afrikanervolkskap is en die binding in Afrikanernasionalisme, was dit steeds die teiken van die Engelse taalimperialisme.
Die Afrikaanse taal word tans weer eens uitgedaag deur die Engelse taalimperialiste, soos in die tyd van lord Charles Somerset en Alfred Milner. Nou word ander vyande ook teen die Afrikaanse taal ingespan, soos byvoorbeeld blyk uit die getuienis van ’n Amerikaanse politieke kommentator, eerwaarde Robert Slimp, in The Edgefield Advertiser van 30 Mei 1990. “The ANC has a hidden agenda”, skryf hy. “This is the complete destruction of the Afrikaner race, language, culture and even religion… From 1960 the Communist radio transmissions beamed at South Africa… continuously emphasized that the Boer government and their racist Afrikaans language are the suppressors of the black majority and must be destroyed.” Daar is min rede om te dink dat hierdie opvattings en oogmerke nie steeds bestaan in die kringe waaruit slagspreuke soos “Kill a Boer, kill a farmer” en “One settler, one bullet” gebore word nie.
Die Afrikanervolk en die Afrikaanse taal is ‘n versperring vir magte wat oor almal in Suid-Afrika wil heers. En Afrikaners moet nie hulle Boere-instink laat afstomp deur paaiende praatjies en vroomklinkende frases oor hulle taal se toekoms nie. Die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans gee kennis dat die eer van die Afrikanervolk opgeroep sal word om, soos in vorige geslagte, hierdie kosbare volksbesit te beskerm in trou aan dié wat voor ons was en dié wat na ons sal kom. Deur in die geloof aan ons reg en geroepenheid as volk, en deur die durf en die wil “om te handhaaf en te hou”, sal die toekoms van Afrikaans beslis word. Laat elke regte Afrikaner sê: Afrikaans is my taal, daarom eer ek dit, praat ek dit, en sal ek dit beskerm teen wie of wat ook al dit wil bedreig of onderdruk.
GHA 25 Jaar se Taalstryd
GHA 25 | Deel 1 van 8
GHA 25 | Deel 2 van 8
GHA 25 | Deel 3 van 8
GHA 25 | Deel 4 van 8
GHA 25 | Deel 5 van 8
GHA 25 | Deel 6 van 8
GHA 25 | Deel 7 van 8
GHA 25 | Deel 8 van 8
















