2022 GHA-DIGKOMPETISIE

WEN MET 2022 GHA-DIGKOMPETISIE

Met Internasionale Moedertaaldag wat vandag wêreldwyd gevier word, skop die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) sy 18de digkompetisie af met ’n verskeidenheid van 13 afdelings/temas, en totale prysgeld van R18 000. ’n Kieskeur van die ingeskrewe gedigte sal in die digbundel, Stemme uit die Suiderland XVII, gepubliseer word. Wenners sal op Saterdag 28 Januarie 2023 tydens ’n Glansgeleentheid in Pretoria aangekondig word.

“Poësie is vir my ’n verkenning van die wêreld en van myself, maar eintlik van myself. Dis ’n spel van vereenselwiging, ’n gesig in die spieël,” het Ernst van Heerden, bekende digter van weleer, gesê. Kyk dus na jou lewe en sién die koddige, die interessante, die melodrama, die worsteling. Sintuie is ʼn effektiewe manier om boodskap oor te dra. Gebruik assonansie, alliterasie, metafore, ritme, ironie en ander stylfigure. Skryf iets vrugbaars, iets van waarde, iets wat jou diepste emosie en gevoelens uitdruk, skryf Theresa Postma.

Die GHA nooi alle persone met taalvaardigheid, die ondersoekende persoon, die humanitêre stem, die filosoof, die digter van daar oorkant en die jongeling wat dinge nuut skryf, om deel te neem.

Waarom juis die skryf van gedigte?

  • Poësie bevorder by uitstek woordkuns en taal.
  • Poësie het terapeutiese waarde, nie alleen in die verwerking van trauma, maar ook met ander lewenskwessies soos versoening, ballingskap en verandering.
  • Poësie is ’n medium tot protes en verset teen politieke en sosiale werklikheid.
  • Poësie speel ’n belangrike sosiale rol op die verhoog en in teater.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, is die beskermheer van hierdie kompetisie.

Temas 2022:

A. Skool/ Onderwys/ Opvoeding
B. Plaaslewe
C. Jan van Riebeeck
D. Geestelik
E. Liefde
F. Natuur
G. Mymeringe
H. Terapeuties. Ek sal weer opstaan.
I. Verset teen onreg!
J. Algemeen
K. Geld en Rykdom
L. Taal, Kultuur en Geskiedenis
M. Ode aan ‘n digter, skrywer of geliefde

Die sluitingsdatum is: 31 Augustus 2022

 

Prysgeld: Algehele wenner R3000, Naaswenner R2000 en afdelingwenners R1000. Totale prysgeld R16000.

 

Digters en aspirant digters word uitgenooi om deel te neem. Dis ook ‘n goeie geleentheid om gedigte wat iewers in ‘n laai lê en stof vergaar, in te skryf.

 

Verdere besonderhede kan gekry word by die GHA-kantoor 0812 50 50  60 of gha@afrikaans.org.za.

 

Stuur elektronies aan.