DIGKUNS EN DIE BREIN 

Ons is reeds bekend met NP van Wyk Louw se insig oor die invloed wat die digkuns op ons het. Die genesende aspekte van poësie kom na vore in die sienings van verskeie digters oor die wese van poësie: 

Poësie is die antwoord uit ons diepste wese op die ekstase, die smart en die lewe se alles omvattende misterie. Dit is ‘n lied, of ‘n versugting, of ‘n kreet.

Charles Angoff.

 

Poësie werk beskawend, want dit skakel die individu – deur die veredelende effek met die lees van die gedig, die ritme, die woorde – met iemand anders, op ‘n manier wat geen ander vorm van kommunikasie kan doen nie. Poësie help ook om die eensaamheid te verminder, wat ons almal deelagtig is. 

Myra Cohn Livingston

 

Ek glo dat ‘n gedig ‘n emosioneel-intellektueel-fisiese samestelling is wat bedoel is om die leser se hart aan te raak, dat dit bedoel is dat die leser dit moet herervaar. Ek glo dat die gedig ‘n venster is wat hang tussen twee of meer menslike wesens, wie andersins sou lewe in ‘n verdonkerde kamers. 

Stephan Dobyns

 

Poësie is die lawa van die verbeelding, wat die uitbarsting van die aardbewing voorkom. 

Byron

 

Die menslike brein bestaan uit ‘n oer-fisiese, ‘n emosionele en ‘n denkende brein. Dit verklaar dus hoe die poësie so diep en veelvlakkig in heel ons wese kan ingryp. Volgens Dobyns se siening kan ‘n gedig dus veelvlakkig ontstaan en veelvlakkig teruggryp. 

Freud het eenmaal geskryf: “Nie ek nie, maar ‘n digter het die onbewuste ontdek.” By ‘n ander geleentheid het hy gesê: “Die verstand is ‘n gedig-produserende orgaan.”  Hoe waar was sy woorde nie. Met akoestiese resonans – deur die luister na gedigte – en magnetiese resonans beelding het navorsers onlangs vermeerderde senuwee aktiwiteit onder die hippokampus (geheue sentrum van die brein) waargeneem. Hierdie area word die “gedigte klier” genoem, of die poësie sentrum, net soos wat daar ook ‘n spesifieke spraaksentrum en musieksentrum is. 

Navorsers het ook gevind dat die aanhoor van prosa geen buitengewone effek op die brein het nie. Daarteenoor, het hulle gevind dat poësie die brein se aktiwiteit verhoog. 

Die ritme en rym van poësie bevorder ook die neerlê en oproep van geheue. Dit word bewerkstellig deurdat ritme en rym die alfa golwe van die brein vermeerder, wat toetrede tot die onbewuste bevorder. In musiekterapie word dit aangebring deur die luister na largo musiek – ‘n maatslag van 50 tot 60 slae per minuut. Die alfa golwe ontsluit ook die geheue sentrum, wat hipermnesia tot gevolg het – die brein onthou alles. 

Dit het die volgende potensiële praktiese toepassings vir poësie: die behandeling van ouderdom en beseringsverwante geheueprobleme, en die ontwikkeling van nuwe tegnieke om disleksie te behandel. 

DIGKUNS AS TERAPIE 

Die eerste poësieterapeut wat aan ons bekend is, was ‘n Romeinse geneesheer, Soranus, wat in die eerste eeu na Christus geleef het. So was Apollo ook die god van medisyne én van poësie. 

Jung en ander het reeds gemeld dat die wetenskap veel gaan baat deur ‘n studie te maak van digters. So het Eli Greifer, ‘n digter en apteker dan reeds ‘n poësie-terapie groep in die 1950’s in samewerking met psigiaters drs Jack J Leedy en Sam Spector begin. In 1980 is die National Association for Poetry Therapy gestig, met webtuiste www.poetrytherapy.org. U sal ook die term biblioterapie teëkom, wat die gebruik van literatuur in die algemeen behels. 

DIE KEURING VAN GEDIGTE AS TERAPIE 

Die gedig wat aangewend word as ‘n terapeutiese hulpmiddel word nie op literêre meriete gekeur nie, maar vir die vermoë om as effektiewe werktuig te dien tot bewuswording en ontdekking van die self. Hier moet die gedig ‘n spieël wees waarin gewaarwordinge uit die wêreld van die self en dié daarbuite skerp verbeeld word.

Verskeie aspekte van die gedig is betrokke by poësie as terapie. Vyf aspekte word veral beklemtoon. (Dit beïnvloed dus ook die beoordeling van gedigte geskik vir insluiting in ‘n bloemlesing vir poësieterapie): 

Luim of emosie 

Wat emosie betref, word die iso-beginsel, soos in musiekterapie toegepas. Wanneer die pasiënt dus aan depressie ly, word gedigte met ‘n depressiewe toonaard, maar waar hoop en optimisme deurskemer, gebruik. Effektiewe gedigte is dié waar kartarsis – ontlading van gevoel – sterk figureer. In musiekterapie word dikwels meer as een musieksnit benodig om ‘n gemoedsverandering te bewerkstellig. 

Intellektuele belewing 

Die gedig moet ook intellektueel bevredig, sinvol wees: wat wil die gedig vir my sê? Die esoteriese gedig is wel bevredigend vir die ingewyde poësie kenners en sal op hierdie wyse ook die iso-ervaring versterk.  

Ritme

Daardeur word toegang tot die onbewuste verkry, soos hierbo verduidelik . Volgens Jung groei ‘n gedig uit die onbewuste van die digter. Die saamlees van jou onbewuste en bewuste self, is dus onontbeerlik om die gedig ten volle te begryp en te waardeer. 

Imago / beeld 

Beeldspraak met vergelyking, personifikasie, simbole, metafore, skep die ruimte waar die onbewuste in beweeg, en die verskillende klanke om die ruimte te verbeeld, spreek elk op eie manier tot die versteurde emosie. Die inbou hiervan in ‘n natuurgedig skep ‘n veilige, ontspanne ruimte waarin die gespanne gees kan ontvlug. In die werklike lewe vermeerder blootstelling aan die natuur ook die brein se alfa golwe. Die lees van ‘n natuurgedig het dus ‘n meervoudige helende effek. 

Struktuur 

Die ongeordende stof moet omtower word tot geordende inhoud, en die alledaagse slordige taal moet ‘n sprankel en musikale element bykry. Die raak organisasie van hierdie materiaal, naamlik stof en taal, bou ‘n sterk struktuur. Die gedig moet juis ‘n sterk struktuur hê wat die gekwelde gees se probleme kan help begrens: uit die chaos word orde geskep; uit ontwrigting, rangskikking; uit disharmonie, harmonie. 

By die keuring van poësie vir gebruik as terapie mag die LIRIS metode van evaluasie van waarde wees:

            Luim/emosie/katarsis         (20)

            Intellektuele belewing        (16)

            Ritme, rym, konsonante    (24)

            Imago – beeldspraak          (24)

            Struktuur                              (16)

 

DIE DOELWITTE VAN MUSIEK- EN DIGTERAPIE 

  1. Dit bevorder die vermoë om op helder beelde en begrippe, en die emosies wat dit wek, te reageer.
  2. Dit versterk bewuswording en ontdekking van die self.
  3. Dit verhoog gewaarwordinge in interpersoonlike verhoudings.
  4. Dit verbeter oriëntasie tot die werklikheid.
  5. Dit ontwikkel kreatiwiteit, selfuitdrukking en eiewaarde.
  6. Dit moedig positiewe denke en kreatiewe probleemoplossing aan.
  7. Dit versterk kommunikasie, veral die vermoë om te luister en te praat.
  8. Dit integreer verskeie aspekte van die self tot sielkundige volkomendheid.
  9. Dit help om van oorweldigende emosies ontslae te raak en spanning te verlig.
  10. Dit help om weer opnuut sin in alles te vind, deur nuwe idees, insigte en inligting te bekom.
  11. Die skoonheid van poësie voed jou weer geestelik en maak jou vry. 

DIE GEBRUIK VAN GEDIGTE AS TERAPIE 

Ten aanvang wil ek graag twee aspekte sterk benadruk, noem dit maar, as waarskuwing uitspel.

  1. Poësieterapie is ‘n hulpmiddel. Kom in ‘n goeie vertrouensverhouding met jou terapeut – jou huisarts/sielkundige/psigiater/predikant. Deel alle inligting wat jy oor jouself bekom met hom/haar.
  2. Indien jy ‘n ernstige geestesversteuring vermoed, moet jy onverwyld hulp gaan soek. Geneesmiddel terapie is uiters effektief. 

Hoe kies ek ‘n gedig vir selfhelpmedisyne? 

Sonder jouself af. Speel jou geliefde musiek saggies as agtergrondmusiek. Lees die gedigte hardop.

Vra jouself eers af: uit welke deel van my spektrum van menswees kom my probleem? Is dit vrae oor die sin van die lewe, geloofstwyfel; depressie of spanning; swak selfbeeld; onhebbelik verlief met onbeantwoorde liefde; persoonlike verlies – egskeiding, dood; vrees vir die dood?

Onthou dan die iso-beginsel, met ander woorde lees dié gedigte wat jou laat voel dat die digter weet hoe ek voel. Dalk kom daar uit die gedig ‘n oplossing vir jou probleem; sien dit en benader jy dit uit ‘n ander hoek. Lees dit hardop oor en oor, memoriseer die treffende dele wat direk tot jou spreek. 

Ontleed die ritme en rym en beeldspraak wat die digter gebruik het. Lees dit oor en oor. 

Staan nou vir ‘n paar oggende vroeg op, en voordat jy met enigiemand gepraat het, of iets gelees het, gaan sit toe oë by ‘n tafel. Voel jou pols en tel saggies vir jouself 150 polsslae – ongeveer vir twee minute. Dit sluit jou af van die buitewêreld.

Maak nou jou oë oop en  skryf die woorde wat in jou gedagte kom in digvorm neer. 

Iets in jou onderbewuste sal hierin afgespieël wees, wat jou insig in jou probleem sal gee. En ook die oplossing van jou probleme.  

                                                                                                          Dr Louwrens E du Toit